Dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie. Die Bybel sê dat Jesus versoek is, net soos ons ook, maar Hy het nooit gesondig nie. God sal nooit kwaad word vir ons wanneer ons versoek word nie. Hy wil vir ons ‘n uitweg wys. Hier is sewe Bybelse stappe wat jou sal help om versoeking vry te spring.
Stap 1: Ken en gebruik die Woord
Toe Jesus versoek is, was Sy enigste verdediging die Woord van God. Hy het gesê: “Daar staan geskrywe… Daar staan geskrywe… Daar staan geskrywe”. Jy kan nie sê,”Daar staan geskrywe,” as jy nie weet wat daar geskryf is nie.
Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U.
PSALM 119:11
Stap 2: Identifiseer jou swakhede
“Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
MATTEUS 26:41
Let daarop dat Jesus gesê het dit is nie genoeg om net te bid nie. Jy moet ook waak. Wees op jou hoede. Vra jouself die volgende vrae:
Wanneer word ek die meeste versoek?
Watter dag van die week? Watter tyd van die dag?
Waar kom ek die meeste in die versoeking?
By die werk? By ‘n vriend se huis? By die winkelsentrum? By ‘n sportkroeg? Miskien is dit in die kombuis of voor die rekenaar. Jy moet eerlik wees met jouself en die aard van jou swakheid en kwesbaarheid erken.
Wie is by my wanneer ek die meeste versoek word?
Kom ek meesal in die versoeking wanneer ek alleen is? Of wanneer ek saam met vriende is wat my in die verkeerde rigting lei? As ek tussen ‘n menigte vreemdelinge is en ek dink niemand sal my ken nie?
Hoe voel ek voordat ek versoek word?
Wat is die emosionele sneller? Is dit frustrasie, uitputting, woede, stres? Is dit verveeldheid of rusteloosheid? Is dit eensaamheid of selfbejammering?
Stap 3: Beplan vooraf wat jy NIE gaan doen NIE
Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.
SPREUKE 4:26-27
Beplan vooraf om weg te bly van mense, plekke of omstandighede wat veroorsaak dat jy kwesbaar is vir versoeking. As jy nie gesteek wil word nie, bly weg van die bye. Beplan wat jy nie gaan doen nie, en hou dan by jou plan.
Stap 4: Bewaak jou hart
Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.
JAKOBUS 1:14
Verleiding is ‘n gewetensaak in jou binneste. Die Duiwel kan jou niks laat doen nie. Hy kan probeer om jou in versoeking te lei, maar jou reaksie en optrede kom uit jou eie besluite, en jou besluite weerspieël die toestand van jou hart.
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
SPREUKE 4:23
Stap 5: Bid vir verlossing
Die gebed van verlossing kom neer op net een woord: Help! Wanneer jou rug teen die muur is, as jy tot oor jou kop in die moeilikheid is, as dit lyk of alles en almal saamspan om jou ondergang te bewerkstellig, bid dan die Gebed van Verlossing. Roep na God om hulp.
Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.
1 KORINTIËRS 10:13
Stap 6: Herfokus jou aandag
Wat ookal jou aandag trek, trek jou. Die stryd teen die sonde begin altyd in jou gedagtes. Die enigste manier om daardie stryd te wen en die versoeking te ontsnap, is om jou fokus te verander en oor iets anders te dink.
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
ROMEINE 12:2
Stap 7: Kry ‘n vriend
Jy benodig ‘n geestelike maat om ‘n geestelike lewe te lei. As jy ‘n betroubare vriend gehad het aan wie jy jou versoekings kon bely, sou jy minder sondes hê om aan God te bely. As jy daardie soort vriend wil hê, moet jy ook daardie soort vriend wees.
Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
PREDIKER 4:9-10
Verdere hulpbronne wag vir jou in 40 Dae van Gebed.